Tuesday, August 24, 2010

Gourmets & Gourmands Fees - Carpe Diem Skool in George


Gourmets & Gourmands Fees - Carpe Diem Skool in George

Die tweede jaarlikse sitting van Carpe Diem Skool in George se Gourmets & Gourmands feesete vind plaas op 28 Augustus en die opwinding is behoorlik besig om monde te laat water, nie net vir die gastronomiese fees vir die oog en vir die maag wat voorsit gaan word vir gaste nie, maar spesifiek vir die opwindende verskeidenheid lotte wat opgeveil gaan word ten bate van die Carpe Diem Skool.


Verskeie deelnemende restaurant van die Tuinroete en Klein Karoo

What a lot I’ got - Met verlede jaar se veiling nog vars in die geheue van gaste, is die gedagte aan die veiling net so aptytwekkend soos die spyskaarte van die verskeie deelnemende restaurant vandie Tuinroete en Klein Karoo. Die heerlike kombinasies en interessante avonture wat opgesluit lê in van die lotte laat die ou Smarties slagspreuk behoorlik herleef en sal vir seker nie teleurstel nie.


Gasheer Francois Ferreira van die Eden School of Culinary Art en Glanskok van RSG

Die veilingfee van die geleentheid is niemand anders as die nimlike gasheer Francois Ferreira nie, mede-eienaar van die Eden School of Culinary Art en Glanskok van RSG se immergewilde Huiskok-Glanskok program. Sy skerp sin vir humor en pittige kwinkslae beloof om van die veiling ‘n geleentheid van formaat in eie reg te maak.


Naweekpakette by eksotiese Suid-Afrikaanse bestemmings en uitsoekwyne
Van die lipleklekker lotte waarop gaste die aand van die geleentheid hulle hande kan lê is naweekpakette by eksotiese Suid-Afrikaanse bestemmings en uitsoekwyne van die betrokke wynplase wat enige wynkenner na ‘n droomwêreld van smaak en aroma sal vervoer. Daar gaan ook ‘n verskeidenheid skilderye opgeveil word; sommige wat deur Carpe Diem se eie aspirant Van Gogh’s geskilder is en ander wat geskenk is vir die fondsinsamelingsgeleentheid.
Alle skilderye kan hierdie week nog besigtig word by Calorosso Coffee in Meade Straat, een van die deelnemende restaurante.


Bespreek jou kaartjie
As jy nog nie jou kaartjie bespreek het vir die glansaand nie, skakel gerus vir Karools Hauptfleish by Carpe Diem Skool , 044 874 4074 or email admin@carpediemskool@wcape.school.za /
om te hoor of daar dalk ‘n kansellasie of twee was. As jy wel jou kaartjie het kan jy vandag soos een van die 5 uitverkorenes voel wat elk ‘n Willie Wonka Goue Kaartjie gekry het in Roald Dahl se klassieke verhaal van “Charlie and the Chocolate Factory”, want elke lot is jou beskore en die tafel van vele is reeds gedek, wagtend op jou besoek.

Inligting en foto’s verskaf deur Mini Finestone en Mariki Theron van House of Ngamathuba vir Carpe Diem Skool.

1 comment: